Wednesday, August 26, 2015

Hoekom ek daarvan hou as my kinders pyn beleef.


As 'n ouer wil ek eintlik net my kinders beskerm teen seerkry. Elke dag hoop ek dat hulle lewe (en myne) glad en sonder probleme sal verloop... 

Maar pyn is deel van die lewe. Dis onafwendbaar.

Televisie-kyk word beperk in ons huis. Om die waarheid te sê - daar is nie 'n opsie om te kyk nie, want ons het geen konneksie nie!

Boon-op ry my seuns daagliks fiets skool toe. Dis 'n pyn as jy nie betyds kan wegkom nie en die gevolge van laatkom moet dra!

Debat-voorbereiding is vir een van my seuns 'n moeilike taak - eintlik is dit ontsettend onaangenaam om die werk te doen. Dit veroorsaak vreeslike ongemak!

('n Ouer se werk: Simpatiseer - en kry vir hom/haar ’n ‘timer’ waarmee hul dit vinnig oor en verby kan kry!)

Hy moet navorsing doen om bronne te vind vir sy argumente en dan daardie inligting verwerk tot dit sin maak in terme van sy twee ander spanlede se standpunte. Elkeen het hul eie ritme en spoed waarmee hulle werk, sodat dit taamlik lank neem voordat elkeen weet wat hy moet sê. Met die gevolg dat my seun telkens opnuut moet begin om nuwe argumente te bewys. Dit is 'n lang proses gevul met geweldige pyn (en konflik word sommer maklik in die mengsel bygegooi!)

Maar stadig maar seker - met 'n bietjie hulp, veral van sy ouer broer – slaag hy daarin om deel te neem aan die debat-finale by die ATKV. En daar voor 'n saal vol mense, moet hy sy man staan en op sy voete dink! Al die pyn is die moeite werd om die oomblik van uitvoering suksesvol uit te voer!

'n Ouer se werk:

Om jou Kind (en  jouself) te herinner - ondanks die pyn, die chaos, wat iemand aan hulle doen of nie aan hul doen nie - dat hierdie HULLE (en jou) wêreld is! Om alles daarin ten volle te omhels. Voluit in die oomblik te leef en hulself te wees.


No comments:

Post a Comment