FAQ


Hoe doen jy studieberading wat mense se unieke intelligensieprofiele in ag neem?

Ek stel 'n profiel saam wat elke persoon se spesifieke sterkpunte op hierdie stadium uiteensit en voer prakties studietegnieke en -vaardighede saam uit, wat daarmee strook.

Die brein is geïntegreerd en dinamies en ontwikkel namate dit gestimuleer word. Die verbetering van die intellek geskied deur verstandelike uitdagings met dit wat makliker kom. Hoe meer inligting daar aan die brein verskaf word, en hoe meer take aangepak word deur hierdie modaliteite (met ’n ontspanne ingesteldheid), hoe meer gebruik die brein sy eie intelligensie om te groei. Uiteindelik word al die modaliteite geïntegreer.

Voorbeelde hiervan is iemand met visuele en taalkundige voorkeur wat die lees en hardop dramatisering van ’n aantal boeke geniet – dit verbeter ook haar ouditiewe modaliteit. Of iemand wat meer liggaamlik (“hands on”) leer, choreografeer drie danse en verbeter (ook) sy musikale, ouditiewe en wiskundige vermoë. Of gehoor-dominantes kan inligting omsit in ouditiewe vorm, byvoorbeeld deur ’n video-opname of liedjie te komponeer. Só oefen hulle hul taalkundige, visuele en kinestetiese intelligensies.

Die mite bestaan dat ons net 10% van ons breinkapasiteit gebruik, alhoewel navorsing toon dat die meeste dele van die brein wel 'n funksie het. Wat is “whole brain learning” en hoe kan dit leerders help om beter op skool te presteer?

Ek dink die syfers word genoem om leerders aan te spoor om harder te werk. Van meer belang is dat die brein ’n wonderwerk is (met ongeveer 100 miljard senuweeselle). Die brein het die kapasiteit van ’n rekenaar die grootte van Tafelberg. Mens moet eerder besef dat dit 'n enorme geskenk is waarmee jy in die eksamenlokaal toegelaat word! Die verantwoordelikheid om jou brein te ontwikkel lê by jou.

Die regter- en linkerkante van die brein het elkeen sy eie manier van inligting verwerk: die linkerkant werk van die besonderhede na die geheel (byvoorbeeld logies-wiskundig; 2 x 2 = 4) en die regterkant van die geheel na die besonderhede (4 is 2 groepe van 2). Wanneer die twee helftes saamwerk, is daar dus sprake van werklike begrip.

Om ’n omgewing te skep waarin die twee breinhelftes ’n ewe groot inset kan lewer, kan ’n mens byvoorbeeld ’n breinkaart opstel nadat die detail bestudeer is. Hierin verbind idees op ’n logiese manier met mekaar. Verbindings en gevolgtrekkings kan ook tussen idees (op die takke van die kaart) gemaak word, terwyl daar ’n duidelike oorsig of geheelbeeld is.

Heelbrein-leer word ook moontlik gemaak deur die leerder se houding. Die korpus kallosum stel      as’t ware die twee helftes in staat om met mekaar “te praat”. Die leerder se eie ingesteldheid bepaal die helderheid van die kommunikasie tussen die hemisfere. Hy of sy kies of daar oor inkomende inligting nagedink word of nie.

Breinkaarte soos hierdie is baie mooi en eintlik kunswerke. Maar neem dit nie onnodig baie tyd in beslag nie, en help dit regtig?


Ja, hierdie breinkaart lyk inderdaad soos ’n mooi tatoeëermerk en sal te veel tyd in beslag neem. Ek stel voor dat werk eers herroep en dan dun, liniêre halwe-bladsy opsommings gemaak moet word.

By breinkaarte vir studie gaan dit meer oor die samehang van die idees en die prent wat die leerder in sy of haar geestesoog sien. Dit word rofweg geteken. Geheuetegnieke soos om die werksinhoud humoristies, absurd of oordrewe te teken laat dit uitstaan in die brein. Dit is aangenaam om te “doodle” en dit is kalmerend. Dit roep ook fokus op, omdat die struktuur sin moet maak. Dit werk ook omdat ’n sekere plek op die papier en die beweging van die “tak” met daardie idee verbind word en in die kop vassteek.

Daar word ook ander geheuetegnieke op breinkaarte gebruik, soos kleurkodes en simbole. Om werk te organiseer kan ongeveer drie kleure gebruik word.

Breinkaarte word ouditief gebruik deur hardop te redeneer en vrae te stel.

Daar word ook ander stukture gebruik wat breinvriendelik is, bevoorbeeld tabelle of in drie kolomme (hoofidee, subidee en voorbeeld). Definisies kan ook gemaak word.

Jou sessies behels ook die aanleer van ontspanningstegnieke. Kan dit help met kinders wat ly aan aandagafleibaarheid en aandagtekort-hiperaktiwiteit-versteuring?

Ja, ons kan almal paadjies vind na ontspanning en op-gemak-wees veral gegewe die feit dat daar baie eise gestel word en dat dit vir genoemde persone nog moeiliker blyk te wees. Om op jou gemak te wees beteken effektiwiteit. As die druk verlig word en die klem na plesier en ontspanning verskuif, in die inspanning, is daar ruimte vir verandering en die persoon kan sy of haar potensiaal verwesenlik.

Tegnieke soos om te fokus op die sensasie van asemhaling is ontspannend en bevorder heelbrein-funksionering. Dit laat beter bloedvloei toe wat suurstof beskikbaar stel sodat al die dele van die brein, in plaas van slegs die agterste area, werk. Dit maak kreatiwiteit moontlik.

Ook die bewuswording en verandering van hul eie taal is hier belangrik; byvoorbeeld: "Ek stres gedurig" kan vervang word met "Ek voel onseker, maar ek leer my sterk punte gebruik om dié stuk werk te onthou”, of “Ek geniet dit om hierdie werk met ’n speletjie van my eie flitskaarte te leer.”

Verder word daar tegnieke soos bevraagtekening toegepas om leerders se eie realiteit en oortuigings te toets.

Daar word ook aan ouers algemene en spesifieke riglyne verskaf, byvoorbeeld dat positiewe boodskappe baie motiverend is en help om die druk te verlig.